Suiwer Hoop
Manage episode 454732365 series 3072738
1 Johannes 3:3 Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. (NLV)
Die woorde "suiwerheid en reinheid" skep ‘n baie positiewe prentjie. Ons praat van suiwer goud, suiwer vreugde, maar het jy al ooit 'n mens ontmoet wat as ‘n ‘rein mens’ bestempel kan word? Iemand wie se diepste gedagtes en motiverings aan die eenkant 100% met sy woorde en dade aan die anderkant ooreenstem? Sulke mense is baie skaars.
As jy dink aan die tipe flieks en televisieprogramme waarna jy graag kyk, het dié wat jou waarskynlik aantrek, 'n held wat, ondanks talle struikelblokke, 'n edelheid, 'n vriendelikheid en 'n liefde uitstraal. Ja, hy blink uit en bereik groot hoogtes.
Dit is die hele idee van reinheid. Goedheid wat teen ‘n bose oormag seëvier. Maar ongelukkig het hierdie wêreld van ons die geneigdheid om ons te besoedel. Ons wil graag "suiwer en rein" wees, maar die lewe is deurmekaar, dit is ingewikkeld. Dikwels word daar van ons vereis om die beste een uit ‘n spul slegte opsies te kies.
Maar in hierdie bandelose, soms vuil werklikheid van die lewe, staan daar die opdrag in:
1 Johannes 3:3 Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. (NLV)
Soms dink ek dat ons daaraan herinner moet word dat daar 'n baie goeie rede is om terug te staan van die bandeloosheid en besoedeling wat in hierdie wêreld floreer. Ja, ons moet onsself skoon was en in gedagte, woord en daad rein wees.
Waarom? Omdat God rein is. En as ons ons hoop vestig op Jesus, wat ons uit die slawerny van ons sonde vrygekoop het, deur die prys wat ons verskuldig was, te betaal, behoort ons ook rein te wees.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
1428 एपिसोडस